Jan Scholtemeijer, Plautus Praat Vlot Afrikaans. Vier komedies van Titus Maccius Plautus in Afrikaans vertaal.
Henderson, W.J.
Jan Scholtemeijer, Plautus Praat Vht Afrikaans. Vier komedies van
Titus Maccius Plautus in Afrikaans vertaal, met 'n Inleiding deur
Koos Kritzinger. Pretoria, Cordis Trust Publikasies, 2012. Pp. 202.
Fotobylae i-x, DVD van Potparanoia (Aulularia). ISBN 978-0-620-53104-7.
Prys R120. Rig navrae aan koos.kritzinger@up.ac.za.
In sy Inleiding verduidelik Kritzinger dat Scholtemeijer met sy
Plautus-verwerkings beoog het om weergawes te skep wat nie stokkerig was
nie, maar geleef het en wat die 'karnaval atmosfeer met sy lawaai
en musiek, met sy uitbundigheid' sou laat hoor het (p. 2); dat
Scholtemeijer gevoel het 'dat die eindproduk in natuurlike
Afrikaans sou wees wat op die verhoog sou werk' eerder as 'n
'studeerkamer- of leeslampvertaling' (p. 2). In die
verwesenliking van hierdie doel is die hulp van die studente van die
Dramadepartement van die Universiteit van Pretoria onder leiding van
Carel Trichard (en Estelle Zeeman vir Die Spookhuis) ingespan, wat die
teks 'terwille van die komiese trefkrag en die opvoerbaarheid'
verder aangepas het (p. 2, 4). Vir twee van die opvoerings is musiek
deur Stefans Grove en Karin Hougaard gekomponeer (p. 5). Die Inleiding
gee verder inligting oor die produksies van die vier stukke, asook
besonderhede oor die DVD (p. 6-8).
Die vier komedies in die bundel is Brigadier Bek (Miles Gloriosus
[MG], 1984), Die Gebodder met die Broeders (Menaechmi [Men.], 1979), Die
Spookhuis (Mostellaria [Most.], 1986) en Potparanoia (Aulularia [Aul.],
1991). Die Afrikaanse titels verkondig onmiddellik dat die toneelstukke
nie akademiese of 'akkurate' vertalings van die oorspronklike
stukke is nie, maar verwerkings vir die verhoog wat ook hulle eie humor
wil skep. Scholtemeijer slaag uitmuntend daarin om die komiese effekte
van situasie (verwarring van identiteit, vermomming, tersydespraak) en
dialoog (slegseery, gevloek, woordspeling), wat deel was van die
oorspronklikes, te herskep. In hierdie verwerkings praat die karakters
werklik vlot Afrikaans wat die lagspiere prikkel.
Hier is net ruimte om drie aspekte uit te lig. Eers is daar die
name van die karakters, wat in die oorsponklike Grieks vir 'n
hedendaagse gehoor heeltemal vreemd en onverstaanbaar sou wees. Die
karakters word met pittige Afrikaanse name herdoop, om iets van die
oorspronklike name se 'betekenis' en woordspeling weer te gee
(waar dit bepaalbaar is). Byvoorbeeld, in MG word die grootpraterige
soldaat Pyrgopolynices (Gr. purgos, 'n toring + poluneikos,
veel-oorwinnend) as Brigadier Bek voorgestel; die parasiet Artotrogus
(Gr. artos, brood + trogein, om te kou) word nou Jabroer en die skelm
slaaf Sceledrus (wat die Latynse woord scelus, 'misdaad',
oproep) Drommel. In Men. word die parasiet Peniculus (Lat. peniculus,
borsel), wel--Borsel, en die kok Cylindrus (Gr. cylindros, beker,
silinder) heel paslik Vaatjie genoem. In Most. is die handelaar
Theopropides (Gr. theopropos, siener, profeet) Piet Staar, die buurman
Simo (Gr. simos, stompneus) Koos Neus, Callidamates (Gr. kalli, goed +
damazein, bedwing, tem) Ben Breker, en die geldskieter Misargyrides (Gr.
misein, haat + arguros, silwer) Sep Sikspens. In Aul. klink die bediende
Staphyla se nuwe naam Stoffila nes die Griekse naam (staphula,
druiwetros) en ook soos die Afrikaanse stoflap; die buurman Megadorus
(Gr. mega, groot + dora, geskenke) is Barend Beursen, die slaaf
Strobilus (Gr. strobilos, warrelwind) is Warrel, en die kokke Congrio
(Lat. conger, seepaling) en Anthrax (in Gr. en Lat. houtskool) is Vlam
en Vonk. Daarteenoor word die ouman Periplecomenus in MG net Oubaas, die
vindingryke slaaf Palaestrio Rakker, en die vrou Philocomasium, sowel as
die prostituut Erotium in Men. en die meisie Philematium in Most. almal
Liefie genoem.
Ander name en verwysings word deur middel van Afrikaanse
ekwivalente vir die gehoor en leser toegankliker gemaak. Quemne ego
seruaui in campis Curculioniis, | ubi Bumbomachides
Clutomestoridysarchides | erat imperator summus, Neptuni nepos? (MG
13-15) kry nuwe lewe en komiese effek as 'Juis, dis mos sy lewe wat
ek laas op die Knersvlakte gered het. Generaal Boksom Boksemdaais was
mos toe die opperbevelhebber ... hy's mos 'n kleinseun of so
iets van koning Neptunus' (p. 13). Scytholatronia (MG 40) word die
Swartsee (p. 14), Sardeis die Sardiers, Macedones die Masedoniers, maar
Cilicia (MG 39) word verander na Sisilie (p. 14, vermoedelik 'n
fout).
Die tweede aspek is die vloekwoorde en uitroepe. Scholtemeijer wys
weer sy vindingrykheid om gepaste Afrikaanse kragwoorde te kry. Edepol
word weergegee as 'aag, u weet', 'verdomp' of
'maggies', hercle as 'wragtag', pol as
'sowaar', vae mihi misero (MG 180) as 'wragtag dat ek
...' (p. 18), euge, euscheme hercle (MG 214) as 'Pragtig!
Pragtig!' (p. 19-20), conmerui malum (MG 531) as 'Slaat my
dood!' (p. 32), St. Tace (MG 985) as 'Sjuut' (p. 49), vah
(MG 962) as 'Ag toe nou' (p. 48) of 'ag jittetjie
tog' (Most. 457; p. 134), V deli u' (MG 984) as 'Ag, u is
nou skoon laf' (p. 49), sat edepol certo scio | occisam saepe
sapere plus multo suem (p. 586-87) as 'Siestog. 'n Geslagte
speenvark het meer verstand as hy' (p. 34), malum (Most. 6, 34) as
'vervlaks' (p. 119, 120), perii (Most. 9) as 'Eina!'
(p. 119), dignissumumst (Most. 52) as 'dis bakgat' (p. 120),
ecastor (Aul. 279) as 'Ag aardetjie tog' (p. 175), en absumpti
sumus (Most. 365) as 'ons het ons "chips" gehad' (p.
130).
Die derde aspek is die kwinkslae, geskel en gevatte dialoe tussen
base en slawe en tussen die slawe onderling. Ego uostra faciam latera
lorea (MG 157) word 'laat ek julle rue aan repies slaan' (p.
18), Ibi dum condignam te sectatu's simiam (MG 505) word uitgebrei
tot 'toe jy agter daai bleddie aap van julle aan is--net so 'n
slegte dierasie soos jy' (p. 32), furcifer (MG 545) word
'Swerkater!' (p. 33), Me habent venalem (MG 580), 'hulle
dink ek is 'n bleddie fool' (p. 34), Nullumst hoc stolidius
saxum (1024), "n Regte klipkop, hierdie vent' (p. 51), At te
Iuppiter | dique omnes perdant (Most. 38-39), 'Te hel met jou,
man' (p. 120), di bene vortant (Aul. 272) 'Goeie hemel'
(p. 174), Non omnes possunt olere unguenta exotica (Most. 42), 'ons
kan nie almal na "Mum for Men" stink soos jy nie' (p.
120), Abi (Most. 66) 'voertsek' (p. 120), vide ut fastidit
simia ... impure parasite (Most. 886-87), 'Nes 'n bleddie aap
... jou bleddie parasiet' (p. 149), en faber (Most. 892)
'gatkruiper' (p. 149). Daar is ook idiomatiese herskepping: Tu
fortu-natu's, ego miser: patinda sunt | meum bonum me, te tuom
maneat malum (Most. 49-50) word weergegee as 'Jy't in die
botter geval, ek's kniediep in die dinges. Dis die lewe daai. Maar
elke hond kry sy dag' (p. 120), en ferocem facis, quia te erus amat
... quia fumus molestust (Most. 890-91) as 'Grootbek, ne? Die baas
se witbroodjie ... Ja, van al die robbies wat jy praat' (p. 149).
Die ergste van Plautus se uitdrukkings word om verstaanbare redes
(die stukke is immers voor skoolkinders opgevoer) op 'n beleefder
wyse gestel (soos ook in die Loeb- en Bude-vertalings): Itaque hic
meretricis, labiis dum ductant eum, | maiorem partem uideas ualgis
sauiis (MG 93-94) word 'voor hom maak die asters vir hom ogies;
agter sy rug trek hulle vir hom skewebek' (p. 16); Impero auctorque
<ego> sum, ut tu me cuivis castrandum loces (Aul. 251) word
'gee ek jou toestemming, nee, beveel ek jou om my te ontman'
(p. 174), en Bellum et pudicum vero prostibulum popli (Aul. 285) word
'Hoor so 'n lieplapper! (p. 175).
Natuurlik is daar ook weglatings, uitbreidings (voetbal word in die
lys sportsoorte bygevoeg, p. 122!) en aanpassings, almal in diens van
groter komiese effek op die verhoog.
Die taalversorging en tegniese afwerking is goed; daar is net
enkele glipse: 'dis verseker' i.p.v. 'dis vir
seker', 'weereens' i.p.v. 'weer eens',
'onmiddelik' i.p.v. 'onmiddellik' en
'ookal' i.p.v. 'ook al'.
Die boek word sterk by belangstellendes aanbeveel; en hopelik
verskyn daar 'n regisseur wat hierdie verwerkings weer op die
verhoog sal laat praat.
Koos Kritzinger is ons dank verskuldig, nie net vir die Inleiding
nie, maar vir die leidende rol wat hy gespeel het in die projek om
hierdie toneelstukke te versamel, versorg en publiseer. Die geheel is
'n passende huldeblyk aan Jan Scholtemeijer.
W.J. Henderson (Universiteit van Johannesburg)