出版社:Department of General Linguistics, University of Stellenbosch
摘要:Blootstelling aan narratiewe vanaf 'n jong ouderdom bevorder geletterdheid en akademiese prestasie (Rollins, McCabe, en Bliss 2000:223). Die vermoë om 'n narratief te produseer behels die gebruik van gevorderde taal- en kognitiewe vaardighede (Wagner, Nettelbladt, Sahlén, en Nilholm 2000:90). Baie akademiese vakke vereis die oorvertel van gebeure, byvoorbeeld in toetse, formele skryfstukke, en mondelinge (Milosky 1987:330). Kinders se vermoë om 'n narratief te verstaan, oor te vertel, en te produseer gee nie net 'n aanduiding van hul algemene taalvermoë nie, maar dien ook as voorbereiding vir die formele taal wat tydens latere skooljare benodig word (Alant, Tesner, en Taljaardt 1992:188). Verder kan die gebruik van komplekse sintaksis in narratiewe belangrike inligting verskaf oor leerders se skoolgeletterdheidsaktiwiteite (Gutierrez-Clellen en Hofstetter 1994:646; Rollins et al. 2000:223). Sintaktiese kompleksiteit is baie nóú geïntegreer met akademiese taal (Gummersall en Strong 1999:152). Handboeke, naslaanwerke, vraestelle, en wiskundige en wetenskaplike literatuur vereis 'n begrip van en vaardigheid met komplekse taalstrukture. Vir die optimale begrip van byvoorbeeld 'n wiskundige woordprobleem, moet voegwoorde en uitgebreide sinne verstaan en geïnterpreteer kan word. Die mate waarin sintakties komplekse uitinge verstaan word, sal dus 'n invloed hê op die begrip van wetenskaplike of akademiese taal. Onderwyser- en handboektaal word albei toenemend kompleks namate kinders deur hul skoolloopbaan vorder (Gummersall en Strong 1999:152). Die begrip van sintakties komplekse sinne is dus belangrik vir sukses in die klaskamer.